Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 58

Оглавление

19 Februarie

Wat maak ek met my lyding?

LEES Matteus 11:25–30

My juk is sag en my las is lig. – Matteus 11:30

Daar is baie siekte en lyding in die lewe. Ook ons as Christen-gelowiges kom telkens voor die misterie van lyding te staan. Hoe moet ons dit verstaan en verwerk? Met Jesus Christus as ons Leidsman en die Voleinder van ons geloof is lyding egter ook ’n geleentheid om te leer.

Markus vertel in sy Evangelie hoe Jesus ’n siek man genees het. Hy sê: “Hy het hom eers eenkant toe gevat, weg van die mense af” (Mark 7:33). Soms het God iets om met ons te deel, maar in die drukte van die lewe het ons nie tyd om na Hom te luister nie, of dalk verstaan ons Hom nie mooi nie. Dan neem Hy ons opsy om persoonlik en in stilte met ons te praat.

Het jy al gehoor wat God in jou spesifieke situasie vir jou wil sê? Het jy sy boodskap reg verstaan? Hy praat met jou oor baie dinge wanneer Hy jou so opsy neem: van vrede deur die bloed van Jesus Christus wat ons swakhede op Hom geneem het; van verlossing; van ondersteuning; van genesing; van sy liefde wat sterker is as siekte of dood.

Mag jy in die afsondering van jou binnekamer hoor wat God vir jou wil sê en mag sy woorde jou hart verbly.

GEBED

Here, hoe bly en dankbaar maak U my hart. U seën my, vertroos my en steun my deur u genade. Dankie dat ek kan weet U is met my in my leed. Help my om die boodskap te hoor en te verstaan wat U nou vir my wil gee.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх