Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 56

Оглавление

17 Februarie

Beloftes wat troosryk vervul word

LEES Hebreërs 13:1–6

Daarom kan ons met vertroue sê: “Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan ’n mens aan my doen?” – Hebreërs 13:6

Ons het die vaste belofte dat God ons nooit sal begewe of verlaat nie. En Hy is die God wat sy beloftes waar maak, selfs wanneer dit vir ons onmoontlik lyk.

Aan Jakob het Hy belowe: “Ek is by jou en Ek sal jou beskerm waar jy ook al gaan” (Gen 28:15). Hoe wonderlik het God nie hierdie belofte bewaarheid nie!

Josua ontvang die bemoedigende belofte: “Ek sal jou nie in die steek laat nie, jou nie verlaat nie” (Jos 1:5). En Josua het dag ná dag God se teenwoordigheid ervaar.

Voordat Dawid sterf, versterk hy sy seun Salomo met hierdie woorde: “God die Here, my God, is by jou. Hy sal jou nie aan jouself oorlaat of jou verlaat nie” (1 Kron 28:20).

Hebreërs verseker ons dat hierdie beloftes almal insluit wat in Jesus Christus glo en op Hom vertrou. Ons het God se beloftes so nodig. Te midde van ons eensaamheid verseker Hy ons dat ons nooit alleen is nie, want Hy is dáár, mét ons! En wat Hy belowe, kán en sál Hy doen!

GEBED

Heilige God, U wat in Jesus Christus ook my Vader is, dankie dat ek op u beloftes kan bou deur ’n vaste geloof en deur die verdienste van my Heiland, Jesus Christus.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх