Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 49

Оглавление

10 Februarie

Mislukking hoef nie finaal te wees nie

LEES Openbaring 21:1–8

Toe sê Hy wat op die troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut.” – Openbaring 21:5

Om te misluk is ’n baie neerdrukkende ervaring. Ideale word verpletter, hoop sterf en drome verander in nagmerries. Daarmee saam kry jou selfbeeld ’n knou.

In sulke tye lyk die toekoms donker en uitsigloos. Jy wil jouself bejammer of ander mense of omstandighede die skuld vir jou mislukking gee. Dit is egter baie meer lonend om jou lewe en optrede eerlik en objektief te beoordeel. Konfronteer die oorsake van jou mislukking en hanteer dit ferm.

Moet nooit jou mislukking as finaal beskou nie. Dit mag nodig wees dat jy belydenis van skuld moet doen. Jy mag vergifnis nodig hê. Moontlik word hernude vasberadenheid van jou verlang. Onthou dat jy slegs ’n mislukking bly solank jy jouself as sodanig aanvaar.

Almal ken mislukking en teleurstelling. As Christen het jy egter die krag van Christus tot jou beskikking. Hy gee dit kwistig aan dié wat Hom liefhet en dien. Deur geloof en vertroue kan Hy jou lei tot oorwinning. Moenie meer dink aan jou mislukkings nie. Kyk in geloof en vertroue vorentoe, want jou Verlosser het jou geroep tot ’n lewe van oorwinning.

GEBED

Opgestane Here, met U in my lewe kan ek triomfeer oor elke mislukking. Maak daagliks van my ’n nuwe mens.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх