Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 52

Оглавление

13 Februarie

Skud die selfbejammering af

LEES 1 Petrus 4:12–19

Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid. – 1 Petrus 4:13

Sommige mense maak hulself bedroef. Hulle kla gedurig oor hul lot en kan alleen die tekortkominge van hul medemens raaksien. Die geringste probleem word buite verhouding opgeblaas en hulle kan slegs oor hul teleurstellings, swaarkry en verspeelde kanse gesels.

Om hierdie slaggat te vermy moet jy vrede maak met jouself en onthou dat jou gesindheid teenoor die lewe van die uiterste belang is. Dit mag wees dat jy deur moeilike en donker tye gaan en dat jy voel dat jy alleen staan en dat selfs God van jou vergeet het. As jy egter jou selfbejammering van jou afskud en vra wat God vir jou in hierdie omstandighede wil leer, sal daar vir jou ’n lig opgaan in die donker.

Glo met oortuiging dat God ’n plan het met jou lewe en dat alles wat oor jou pad kom, deel van hierdie plan is. Vertrou Hom elke dag, elke tree, dan sal jy ’n gevoel van veiligheid en vrede ervaar. Só word jy ’n medewerker van God aan jou eie geluk en loop jou lyding uit op vreugde.

GEBED

Heilige God, al verstaan ek nie altyd u weë nie, help my om ’n vreugdevolle mens te wees omdat ek U in gehoorsaamheid volg waar U my ook al lei.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх