Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 64

Оглавление

25 Februarie

God die onveranderlike

LEES 1 Korintiërs 13:1–13

En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde! – 1 Korintiërs 13:13

Verandering is deel van ons lewe hier op aarde. Van ons vroegste kinderjare tot in die gryse ouderdom beleef ons nimmereindigende verandering wat ons lewe omver kan gooi.

God is egter onveranderlik. Hy kom ons in ons nood tegemoet met die vertroosting: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie” (Heb 13:5). “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” (Heb 13:8) en ons waarborg dat daar kosbare dinge is wat blywend is.

• Geloof is blywend. Geloof in God sal alles ten goede laat meewerk. Geloof in Christus wat by ons is al die dae. Geloof in die Heilige Gees wat ons Trooster is. Geloof in God se Woord met sy vertroosting en beloftes.

• Hoop is blywend. Hoop op ’n ewige lewe by God. Hoop dat môre ’n beter dag sal wees omdat God daarin is.

• Liefde is blywend. God se liefde vir ons en ons liefde vir mekaar bly. Ons put krag uit hierdie liefde.

Geloof, Hoop en Liefde bly ons leidsterre deur die veranderinge en kondig vir ons ’n nuwe dagbreek aan.

GEBED

God van Geloof, Hoop en Liefde, dankie dat U, die Onveranderlike, die Leidster van my lewe is. Sterk my geloof; verinnig my hoop en suiwer my liefde deur die werk van u Seun.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх