Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 54

Оглавление

15 Februarie

“Hoender”- of “arend”-Christen?

LEES Jesaja 40:27–31

Maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke. – Jesaja 40:31

Hoenders en arende het albei vere en vlerke, maar daar eindig die ooreenkoms. Die hoender krap in die grond rond; hy kan nie vlieg nie; hy eet en die hen lê eiers tot voordeel van haar voeder. Die arend vlieg egter deur die blou lug wat sy jagveld is; hy is in niemand se diens nie. Die hoender is oorgewig en swak weens die oorvloed kos wat hy gevoer word. Die arend is lenig en taai omdat hy sy voedsel self soek en vang.

Baie Christene vertoon die kenmerke van hoenders. Hul oë is gedurig op die grond in plaas van op die horison. Hulle is oorgewig weens wêreldse ambisies en besittings en te swak om met die vlerke van geloof van die grond af op te styg en te vlieg.

Daar is egter Christene wat deur die genade van God die kenmerke van arende ontwikkel. Hulle onderneem geloofsvlugte wat hulle toets en sterk maak. Hulle vertrou volkome op God se voorsiening sodat hulle waarlik vry kan wees en gelowig kan reik na die son.

Van tyd tot tyd sal ’n “hoender” ’n “arend” sien verbyflits, maar steeds onbewus bly daarvan dat hy in Christus die potensiaal het om die “arendsvlug” van geloof te bereik. En die “arend” ry op die vlerke van die wind en deurklief die vrye ruimtes van God se genade en beskerming.

GEBED

Aan U, o Here, wat magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, bring ons al die lof en die eer.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх