Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 62

Оглавление

23 Februarie

Die glorie van medelye

LEES Efesiërs 4:25–32

Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het. – Efesiërs 4:32

Miskien was daar ’n tyd toe die behoeftes van minderbevoorregtes jou diep getref het en jy iets gedoen het om hul nood te lenig. Nou word jy egter nie meer geraak nie. Jou gewete het afgestomp vanweë die alledaagsheid van armoede. As dit waar is van jou, het jy toegelaat dat ’n belangrike deel van jou geestelike lewe afgetakel word.

Deur onbetrokke by die nood van jou medemens deur die lewe te beweeg, maak jy dit vir die Heilige Gees moeilik om deur jou te werk. Dit is deur sensitiewe en gehoorsame mense dat God sy werk op aarde doen.

’n Gevoelige gewete is nie maklik om mee saam te leef nie, want jy vereenselwig jou met die pyn en nood van ander. Dit maak egter van jou ’n meer begrypende persoon. Jou gewete sal skoon wees en is ook die kanaal waarlangs God sy genade in jou lewe laat instroom. Jy sal in harmonie met Christus en jou medemens wees en jy sal besef hoe genadig en deernisvol God teenoor jou optree in jou nood. Dan openbaar jy die gesindheid van Jesus Christus, word jy vervul met medelye teenoor ander en is jy goedgesind en hartlik teenoor almal wat saam met jou die stryd van die lewe stry.

GEBED

Here, hou my sensitief en maak my vol begrip. Gee aan my ’n gesindheid van medelye deur die kragtige werk van u Gees.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх