Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 53

Оглавление

14 Februarie

Lofsingende geloof

LEES Psalm 146

Ek wil die Here prys so lank ek lewe, ek wil die lof van my God besing so lank ek daar is. – Psalm 146:2

Daar is baie edele dade wat deur mense verrig word, dade van opoffering en onselfsugtigheid wat ons verstom, ontroerende dade van genade en liefde. Maar die edelste en verheffendste daad van die mens is om die lof van die almagtige God te verkondig: “Ek wil die Here prys so lank ek lewe, ek wil die lof van my God besing so lank ek daar is” (Ps 146:2).

Ongelukkig gee ons in ons godsdiensbeoefening dikwels ’n minderwaardige plek aan die lof van God. Wanneer daar gepraat word van die lof en aanbidding van God, dink ons onwillekeurig aan formele eredienste; gesange in die kerk; Skriflesing; gemeenskaplike gebed. Hierdie dinge is wel belangrik, maar lofsingende geloof is veel meer as formele godsdienstige pligpleging. Dis ’n lewenshouding wat deur ons geloof in Christus geïnspireer word.

Lofuitinge moet elke uur van elke dag van ons lewe vul. Lof aan God is die geloofskrag wat die alledaagse dinge heilig omdat God sentraal staan in ons lewe en al die terreine van ons menslike bestaan weldadig aanraak. Eerbetoon en lof gaan aan Hom met elke edel daad wat ons in sy Naam verrig.

GEBED

Ek wil U loof, Here, met alles wat in my is, wil ek u heilige Naam loof. Ek wil nie een van u weldade vergeet nie.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх