Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 63

Оглавление

24 Februarie

Die ryke seën van afsondering

LEES Matteus 14:22–32

Nadat Hy die mense weggestuur het, het Hy alleen na die berg toe gegaan om te bid. Toe dit aand word, was Hy daar alleen. – Matteus 14:23

Die mens gedy in geselskap en doen in ’n groep wat hy andersins nooit sou gedoen het nie. Baie mense vrees afsondering. Hulle kan nie hul eie geselskap verdra nie en is bang vir hul eie gedagtes.

Dit is heerlik en voordelig om goeie geselskap te geniet, maar ’n mens se ware karakter kom na vore wanneer jy alleen is. Dan word die rykdom of armoede van jou gees geopenbaar.

Ons moet die genadegawe ontwikkel om met ons eie geselskap tevrede te wees. Ons moet ons gedagtes kan beheer sodat hulle konstruktief is en in onafgebroke gemeenskap met ons Meester kan verkeer. Dan het ons die geheim ontdek van die produktiewe en suksesvolle hantering van ons eensaamheid.

As jy tyd maak om alleen met God te verkeer, sal sy krag na jou deurvloei, jou oordeel sal suiwerder wees, jy sal gebalanseerd optree en met wysheid besluite kan neem.

Om in die stilte met God alleen te wees maak jou direk tot seën vir ander, soos Christus telkens gedemonstreer het.

GEBED

Liefdevolle Meester, dankie vir versterkende oomblikke saam met U. Laat my nooit my eensaamheid bekla nie, maar dit gebruik as ’n geleentheid tot gemeenskap met U en diens aan ander.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх