Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 61

Оглавление

22 Februarie

Ek is jammer

LEES Psalm 38:16–23

Ek bely my ongeregtigheid, my sonde kwel my. – Psalm 38:19

Van die heel moeilikste woorde om te sê is: “Ek is jammer” of: “Ek is ook skuldig.”

“Ek is jammer” kan die gapende afgrond van vervreemding tussen vriende oorbrug; dit kan ’n liefdesverhouding wat skeef geloop het, weer regtrek; dit kan hartseer en bitterheid verdryf. Maar wanneer ons die woorde wil uitspreek, kom daar talle redes in ons gemoed op waarom ons dit juis nie moet doen nie: Ek het niks verkeerds gedoen nie. Mense sal dink ek is ’n swakkeling. Ek sal my waardigheid moet prysgee. Die persoon aan wie ek dit sê, sal net lekkerkry. Weens hierdie subtiele influisteringe van Satan, kom ons nooit by die bevrydende belydenis uit nie. Só word ons lewe verarm en skep ons nuwe teelaarde vir bitterheid en misverstand.

Sonder skuldbelydenis kan geen vertroebelde verhouding reggemaak word nie. Nie ons verhouding met God nie en ook nie dié met ons medemens nie. Ons kan dit nie bekostig om te trots of te hoogmoedig te wees om skuld te aanvaar nie. Vra God om deur sy Gees aan jou die moed te skenk om te sê jy is jammer. Die resultate sal jou verras en verbly.

GEBED

Here Jesus, help my om te vergewe soos U my vergewe en om die gebroke verhoudinge in my lewe te herstel deur skuldbelydenis. U kán alle dinge nuut maak en ek wag gelowig op U.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх