Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 50

Оглавление

11 Februarie

Doeltreffende voorbidding

LEES Romeine 8:26–32

Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. – Romeine 8:26

Om ’n doeltreffende gebedslewe te handhaaf is dit van die allergrootste belang dat jou verhouding met God suiwer en opreg moet wees.

Dit is nie moeilik om daagliks vir hulle te bid wat ná aan jou staan nie, om elke deel van hul bestaan aan die Vader op te dra nie. Jy het egter die leiding van die Heilige Gees nodig, want al het jy hulle lief, weet jy nie wat vir hulle die beste is nie. Die Gees van God sal jou lei sodat jy na die wil van God vir hulle sal intree.

Bid altyd in ’n gees van verwagting. Glo dat God jou gebede sal beantwoord op sy tyd en op sy manier. Dan sal jy sien hoe sy wil tot openbaring kom in jou eie lewe en in die lewens van dié vir wie jy bid. Hou die kanale oop tussen jou en God en tussen jou en die mense wie se behoeftes jy aan God opdra. Glo met oortuiging dat sy heilige wil sal geskied omdat God almagtig is en omdat jy gelowig en gehoorsaam gebid het.

GEBED

Here, U wat ons roep tot die bediening van die voorbidding, maak my opreg, gelowig en gehoorsaam aan u heilige wil. Dankie vir hierdie uitnemende voorreg wat Jesus Christus vir ons moontlik gemaak het.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх