Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 60

Оглавление

21 Februarie

God gee om

LEES 1 Petrus 5:5–11

Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle. – 1 Petrus 5:7

Soms verloop die lewe nie soos jy graag wil hê nie. Alles wat jy aanpak, eindig in mislukking. Dan voel jy teleurgesteld en mismoedig en wanhoop jy aan ’n lewe van oorwinning.

Terugslae en probleme word ’n meer gedugte vyand wanneer jy probeer om hulle uit eie krag te oorwin of self na ’n oplossing soek. Jy raak geestelik en liggaamlik afgerem en voel uiteindelik dat jy breekpunt bereik het.

Wanneer jou gees so neergeboë is en jou krag tot herstel nie so dinamies is as wat dit vroeër was nie, het jy ’n werklike ervaring met God nodig – só werklik dat jy jou lewe volkome met Hom kan deel. Om jou kommer en laste met Hom te deel bring jou in aanraking met ’n kragbron wat jou in staat stel om onwrikbaar te bly staan, selfs wanneer dit lyk asof die fondamente van jou lewe verkrummel.

God ken jou omstandighede, Hy gee om en wil jou help. As jy Hom ken, ook in die donker tye van jou lewe, sal elke bekommernis en elke las ’n geleentheid wees om jou Vader beter te leer ken en vertrou.

GEBED

Voorsiener-God, dankie dat U weet en omgee. Laat hierdie sekerheid elke dag my krag en inspirasie wees. Gee aan my u vrede, veral tydens die storms in my lewe.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх