Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 55

Оглавление

16 Februarie

God hou jou hand vas

LEES Jesaja 61:1–11

Ek is baie bly oor die Here, ek juig oor my God, want Hy het my gered. – Jesaja 61:10

Daar is sekere lewenswaarhede wat net droefheid ons kan leer. Daarom kan ons nie net altyd vreugde hê nie. Droefheid is ook nodig, want dit dryf ons na God. In beproewing leer ons God ken soos nooit tevore nie. Wanneer ons na die dieptes van die lewe gedryf word deur droefheid, word ons vertroos deur God Self: “Die uitkoms is hier! Die uitkoms is hier! Bring vir Jerusalem die goeie tyding, sê vir hom sy swaarkry is verby …” (Jes 40:1–2).

Christus sê soms vir ons wat Hy vir sy dissipels gesê het in Markus 6:31: “Kom julle alleen saam na ’n stil plek toe en rus ’n bietjie.” So ’n eensame plek is ons droefheid. Dáár is ons alleen met die Here en ontdek ons weer hoe afhanklik ons van Hom is. In elke donker oomblik, moet ons onthou: God hou ons hand vas “… om aan te kondig dat die tyd gekom het waarop die Here genade betoon … almal wat treur, vertroos, die dag waarop Hy dié in Sion wat treur, eer gee in plaas van smart, vreugde in plaas van droefheid, blydskap in plaas van hartseer” (Jes 61:2–3).

GEBED

Trooster van ons bang gemoed, help my wanneer beproewings oor my pad kom. Dankie dat dit in my lewe nooit so donker word dat u lig vir my verdwyn nie, en dit om Jesus Christus ontwil.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх