Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 45

Оглавление

6 Februarie

Wanneer jy twyfel

LEES Johannes 20:26–31

Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo. – Johannes 20:29

In verwarrende lewensomstandighede begin twyfel so maklik in ’n mens se hart invreet. En ons laat dit toe om te gebeur. Dit is ’n droewige lewenswaarheid wat ons gereeld moet bely. Wanneer dit gebeur, is die woorde oor die geloofsheld Abraham egter vir ons ’n versterking: “Hy het nie in ongeloof begin twyfel aan die belofte van God nie, maar hy is in sy geloof versterk en het aan God die eer gegee. Hy was ook ten volle daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het. Deurdat Abraham geglo het, het God hom dus vrygespreek” (Rom 4:20–22).

Ons is so geneig om God aan onsself gelyk te stel. As iets vir ons onmoontlik is, vergeet ons so maklik dat niks vir Hom onmoontlik is nie. Wanneer jy dus weer worstel met ’n skynbaar onoplosbare probleem, of wanneer jy ’n swaar las moet dra waarvoor daar skynbaar geen verligting is nie, staan ’n oomblik stil en vra jou af: Uit watter oogpunt sien ek my probleem, my las? Uit my eie oogpunt, of uit God S’n?

Onthou en aanvaar dan: Jy dien ’n Meester wie se grootheid en almag alles oortref wat jy kan hoop of begeer.

GEBED

Heilige en almagtige Vader, ek dank U opnuut vir die versekering dat niks vir U onmoontlik is nie. Ek bring al my probleme en laste na U toe in die geloofsoortuiging dat U ’n oplossing het indien ek in die geloof volhard.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх