Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 29

Оглавление

23 Januarie

Volg waar God lei

LEES Psalm 32

Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg. Ek wil jou raad gee en my oog oor jou hou. – Psalm 32:8

God lei diegene wat hulle volle vertroue in Hom plaas. Met hierdie wete kan jy elke veeleisende dag en onbekende nag binnestap.

Wanneer ons jubel dat God ons Leidsman is, beoefen ons nie verstandelike gimnastiek nie, maar die wesenlike lewenservaring van duisende wat ’n aktiewe lewe vir Hom lei.

Die eerste voorvereiste vir Gods leiding in ons lewe is absolute en volkome oorgawe aan Hom. ’n Mens maak tog nie van iemand ’n leidsman indien jy nie onwrikbare vertroue in hom stel nie.

Dit moet gevolg word deur gedurige kommunikasie met God. Daaarom is gebed en meditasie so noodsaaklik. Van jou kant moet jy ook jou deel doen. God sal die deur oopsluit, maar jy moet self die deurknop draai.

Dit verg moed om Hom konsekwent en gelowig te volg; om dit stap vir stap te doen sonder om die eindpunt te sien; om die oortuiging te behou dat dit God se pad en God se wil is. Maar doen dit – jy sal verbaas wees om te sien hoe sy heilige wil in jou lewe ontvou.

GEBED

Here, U is vir ons ’n toevlug en ’n sterkte. As hulp in ons benoudheid het U Uself nog altyd trou bewys. Maak my sensitief om u wil vir my lewe te ken en skenk my die genade om dit te volg deur die liefde van Christus.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх