Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 42

Оглавление

3 Februarie

Oorwin depressie

LEES Romeine 8:18–39

Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. – Romeine 8:37

Daar is besliste stappe wat jy in geloof kan neem om depressie te oorwin. Jy moet net gewillig wees om dit te doen.

Glo in die eerste plek dat God groter is as jou omstandighede en probleme en aanvaar die oorwinning in sy Naam. Dra al jou probleme en spanning in die gebed aan jou hemelse Vader op. Maak ’n lys van elke probleem in jou lewe. Glo onwrikbaar dat God ’n doel het met hierdie donker tydperk in jou lewe (vers 28). Moenie God weerstaan as Hy ook deur jou beproewing iets in jou lewe tot stand wil bring nie.

Besef dat jy nie altyd jou sin kan kry nie. Die aanvaarding van jou omstandighede is eintlik die aanvaarding van God se wil vir jou lewe. Frustrasie en bekommernis los geen probleme op nie. Soek iets waarvoor jy God kan dank en leef ’n lewe van lofsingende dankbaarheid voor God.

Bely en doen afstand van sondige dade en gedagtes. Bestudeer die Skrif. Dink soos ’n kind van God behoort te dink en tree soos een op. Dis ’n voorreg om ’n Koningskind te wees! Kyk weg van jouself na die wêreld rondom jou. Sien die doel van God in alles raak en ontwikkel ’n blymoedige gees.

GEBED

My siel smag na U, o God. Dankie dat U my nie verlaat nie, ook nie in donker oomblikke nie. Dankie vir die voorbeeld van Jesus Christus in Getsemane. Gee my genade om Hom na te volg.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх