Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 31

Оглавление

25 Januarie

Eien Christus se vrede vir jou

LEES Lukas 24:36–49

Terwyl hulle nog oor hierdie dinge praat, staan Jesus self meteens daar tussen hulle en sê vir hulle: “Vrede vir julle!” – Lukas 24:36

Die lewe is vol ondervindings wat jou gespanne maak. Jy word humeurig en onvergenoeg – omdat jou vrede daarmee heen is. In sulke spanningsituasies is dit noodsaaklik om innerlike reserwes op te bou waaruit jy krag kan put. Die belangrikste kragbron in só ’n tyd is die vrede wat Jesus Christus gee aan almal wat Hom liefhet en dien en in gehoorsaamheid naby Hom leef. Die wonderlikste is dat hierdie vrede beskikbaar is vir elkeen wat gewillig is om Christus te volg.

Wanneer spanning begin opbou, moet jy doelbewus weier om jou te laat meesleur. Waak teen humeurigheid en geïrriteerdheid. Moenie deel word van die gejaagdheid van die massa rondom jou nie. Dwing jouself tot rustigheid. Sonder jou af met Christus. Dit hoef net enkele minute te wees, maar dóén dit. Bevestig weer jou afhanklikheid van Hom en glo dat sy vrede vir jou beskikbaar is en neem dit dan vir jou.

Spoedig sal jou moeë, gejaagde gees tot bedaring kom en Christus se vrede sal jou lewe verfris. Jy sal ’n vrede in jou hart vind wat niks en niemand van jou kan wegneem nie. Jy sal jou Meester hoor sê: “Vrede vir jou!”

GEBED

Heilige God, bring my te midde van die gejaagdheid en spanning van die lewe van elke dag by waters waar daar vrede is.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх