Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 36

Оглавление

30 Januarie

God van dié wat alleen agterbly

LEES Psalm 94:12–23

Toe ek gedink het my voete gly, het u troue liefde my regop gehou, Here. – Psalm 94:18

Die een wat agterbly ná die dood van ’n lewensmaat is mateloos eensaam omdat sy of haar lewensmaat, geselskap en vertroueling weg is. Die eensaamheid word erger omdat niemand eintlik hierdie verlatenheid verstaan nie. Jy is alleen in die storms, alleen met groot besluite, met feesgeleenthede, alleen met jou smart, alleen in tye van siekte en nood.

By wie kla jy? Met wie deel jy jou lewensvreugdes en die ervarings van die dag? Môre hou skielik geen opwinding meer in nie. In die nag steek jy jou hand uit om ouder gewoonte jou geliefde aan te raak, maar sy of haar plek is leeg.

Die oplossing vir hierdie eensaamheid lê in jou verhouding met God. Geseënd is hy of sy wat kan sê: “Toe ek met baie onrus in my binneste sit, het u vertroosting my tot rus gebring” (vers 19).

Vertrou God met jou eensaamheid én jou toekoms. Hy sál voorsien. Lewer jou bydrae tot die lewe. Deur voorbeeld en diens kan jy God se koninkryk help bou en ander se nood en smart verlig. Só sal jy oorwinnend uit jou krisisuur kom.

GEBED

God van eensames, U het ons geleer dat ons krag sal vind in stilwees en vertroue. Skenk my in hierdie donker oomblikke daardie krag.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх