Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 28

Оглавление

22 Januarie

Lig in die duisternis

LEES Johannes 1:1–18

In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdood nie. – Johannes 1:4–5

Die lewe kan skielik stikdonker lyk weens probleme of hartseer. Jy is onseker en vind dit so moeilik om die duisternis te hanteer, dat jy selfs nie die hulpmiddels wat God tot jou beskikking stel, doeltreffend kan gebruik nie.

Daar is mense wat die duisternis triomfantlik oorwin deur Christus wat hulle in staat stel om uit die donkerte die lig te betree. Jesus is die ware lig wat elke mens verlig (vgl Joh 1:9). Wanneer jou pad onseker is en jy moeilike beslissings moet maak, lei Christus jou tree vir tree uit die duisternis van droefheid en verwarring tot in sy wonderbare lig.

Die ligstrale van God se liefde omvou jou; Hy beskerm jou teen gevare waarvan jy onbewus is. In tye van droefheid en smart hou Hy liefdevol oor jou die wag. Draai daarom in tye van nood jou gesig na die Lig toe. In Christus lê oorwinning en stralende blydskap en deur Hom groei ons seënryk in die volle sonskyn van God se onmeetlike liefde.

GEBED

Help my, liefdevolle Christus, om moedig en verstandig die lig te betree waarmee U my lewensweg bestraal. Ek plaas my hand vertrouend in u hand – lei my in u lig.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх