Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 23

Оглавление

17 Januarie

God van hoop

LEES Romeine 8:18–30

Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop. Wat ’n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie … Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding. – Romeine 8:24–25

Wanneer die dood ’n familiekring binnedring, is daar droefheid. Ons is hartseer oor ons verlies en eensaamheid, ons onsekerheid en vrees. Dit is die genadegawe van hoop in ons hart wat op só ’n dag ons vrees in vertroue, ons droefheid in vreugde, ons twyfel in sekerheid en ons eensaamheid in heilige geloofsgemeenskap omskep. Hoop vul ons hart met blydskap en vertroue in die ewige goedheid van God.

Hoop is een van die drie onsterflikes, met Geloof aan die linkerkant en Liefde aan die regterkant (1 Kor 13:13).

Geloof is leeg en Liefde betekenisloos sonder Hoop. Dis die anker van die siel (Heb 6:18).

Hoop gee aan ons ’n onoorwinlike gees. Wanneer die Hoop lewe, lewe alle dinge.

Hoop sê vir ons dat hierdie lewe slegs die voorwoord is tot die ewige lewe.

As die wêreld vra: “Is jy bang?” antwoord Hoop: “Nee, want my Here is daar!” Só bring Hoop vir ons rus en veiligheid.

GEBED

Ewige God, ons loof U vir u Woord wat altyd nuwe hoop bring wanneer wanhoop ons bedreig. Versterk ons daagliks in die onblusbare hoop wat die deel van u kinders is.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх