Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 30

Оглавление

24 Januarie

God ons Rots

LEES Hebreërs 13:7–19

Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid. – Hebreërs 13:8

In hierdie tyd van snelle veranderinge en al die uitdagings wat daarmee gepaardgaan en wat eise aan ons stel, soek ons ’n standhoudende middelpunt waaraan ons ons lewe kan koppel. Hierdie middelpunt vind ons in ons God.

Hier op aarde verander alles. Omstandighede wissel mekaar vinnig en onverbiddelik af: stilte en storm; sonskyn en wolke; gesondheid en siekte; lewe en dood. Net Jesus Christus, ons Verlosser, verander nooit nie. In Hom het ons ’n Rots wat onwankelbaar vas bly staan.

Deur die verbysterende veranderinge in ons lewe het ons miskien baie skade gely, maar as ons verlies ons by die Here uitgebring het, gestroop van alle uiterlike en oortollighede, besit ons nou veel meer as wat ons verloor het.

God laat soms ’n stormwind opkom om ons van alle aardse hulp te laat afsien en ons toevlug te neem tot Hom – die Rots op Wie ons ons lewe kan bou met sekerheid.

GEBED

My Here en God, ek dank U dat ek kan sê: My tye is in u hand. U is vir my ’n skuilplek; U is die ruspunt van my hart te midde van al die veranderinge van die wêreld.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх