Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 27

Оглавление

21 Januarie

God maak sy wil bekend

LEES 1 Konings 19:1–21

Na die aardbewing was daar ’n vuur. Maar in die vuur was die Here nie. En na die vuur was daar ’n fluistering in die windstilte. – 1 Konings 19:12

God maak sy wil op verskillende maniere aan ons bekend. Toe Elia moedeloos was, wou die Here Homself aan Elia openbaar om hom te versterk en te bemoedig. Eers het ’n sterk wind die berge geskeur; ná die wind was daar ’n aardbewing; ná die aardbewing ’n vuur – en in nie een van hulle was die Here nie. “En na die vuur was daar ’n fluistering in die windstilte” (vers 12). Dit is moontlik om die wil van God in die stilte te leer ken, om sy leiding, genesing en liefde konkreet te ondervind.

Dit is egter in ons gejaagde lewe goed om te weet dat God soms ook in die warrelwind en die orkaan met ons praat, soos met Job: “Die Here het weer vir Job aangespreek uit die stormwind uit …” (40:1).

Hy is nie alleen die God van die stilte nie, maar ook die God van die aktiewe, gejaagde lewe. In die storms van die lewe kan God aan u sy duidelike leiding skenk as u gewillig is om te luister na sy stem en gehoorsaam te wees aan sy wil. ’n Besige lewe is geen struikelblok in ons ontmoeting met Hom nie. Ons moet maar net die begeerte hê om by Hom uit te kom. Jy sal vind dat Hy reeds vir jou wag.

GEBED

Dankie, Meester, dat te midde van die gejaagdheid van die lewe ek nie van U hoef los te raak nie. Skenk aan my u vrede.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх