Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 37

Оглавление

31 Januarie

Wees gehoorsaam

LEES 1 Samuel 15:16–25

Nee, gehoorsaamheid is beter as offerande, om te luister is beter as die vet van ramme. – 1 Samuel 15:22

Gehoorsaamheid is beter as offerande. Dit was die lewensles wat Jona moes leer voordat hy vir die Here diensbaar kon wees: “Die woord van die Here het tot Jona … gekom. Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve … Maar Jona het klaargemaak om na Tarsis toe te vlug …” (Jona 1:1–3).

Baie mense doen vandag nog presies wat Jona gedoen het. Hulle weet wat God van hulle verwag en wat sy wil vir hul lewe is, maar hulle probeer sy plan met hul lewe fnuik.

Soms is die pad wat die Here wil hê ons moet bewandel duidelik uitgestippel; soms is dit moeilik om te aanvaar en te verstaan. Miskien wil jy God se pad nie loop nie omdat jy nie genoeg selfvertroue het nie of omdat jy bang is vir wat op daardie pad met jou kan gebeur.

Gehoorsaamheid vereis egter dat ons God volkome sal vertrou en in die geloof sy pad sal loop. Onthou, waarheen God jou ook al mag stuur, Hy is in Christus Jesus sáám met jou daar. Hoe moeilik die pad ook al is, wees onvoorwaardelik gehoorsaam en jy sal die vreugde ken wat die deel is van dié wat onder die leiding van God se Gees wandel.

GEBED

Ek dank U, Vader, dat ek maar net in volkome gehoorsaamheid kan volg waar U my lei. Lei my tree vir tree.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх