Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 26

Оглавление

20 Januarie

Genade onbegryplik groot

LEES Titus 3:1–11

Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming. – Titus 3:5

Die genade van God is die enigste geneesmiddel vir al die misverstand, haat en bitterheid van hierdie wêreld. Ongelukkig tree baie Christene op asof hulle alleenreg op hierdie genade het. Dit veroorsaak skeuring en aftakeling van die groot werk waartoe die kerk geroep is.

Daar is mense wat groot finansiële bydraes aan die kerk kan gee of die vermoë het om leiding in die kerk te neem, maar dan eis hulle spesiale erkenning en voorkeurbehandeling daarvoor. Dit veroorsaak onderlinge jaloesie wat die kerk van Christus nie waardig is nie.

Elke Christen-dissipel behoort bewus te wees van een allesoorheersende waarheid: Ons is deur genade alleen gered, nie deur ons eie verdienste nie. As ons dit met dankbaarheid kan aanvaar, sal ons die nederigheid en die liefde kan openbaar wat só duidelik sigbaar was in die lewe van Christus. Dit behoort ook die kenteken van elke ware Christen te wees. Alleen hierdeur sal ons saamgebind word tot ’n gemeenskap wat ’n ware liggaam van Christus in die wêreld sal wees.

GEBED

Heiland, U het aan my onbegryplik groot genade bewys. Help my om dit deur te gee aan almal met wie ek in aanraking kom en dat u beeld altyd in my weerkaats sal word.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх