Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 35

Оглавление

29 Januarie

Leer om te luister

LEES 1 Samuel 3:1–18

Praat, Here, u dienaar luister! – 1 Samuel 3:10

Om na God te luister is nie so maklik nie. Hy praat nie met ons in ’n hoorbare stem nie. God het in die ou tyd direk met mense soos Samuel gepraat, maar vandag hoor ons God se stem langs ander weë.

Die eerste en belangrikste vereiste is om by God uit te kom. Dit doen jy in uiterste geloof en vertroue. Praat openhartig met jou hemelse Vader en dink daaraan dat Hy jou beter ken as wat jy jouself ken. Lê jou lewe aan Hom bloot en deel elke nietige aspek daarvan met Hom.

As jy getrou en volhardend bid, sal jy verrykende oomblikke ondervind. Dan sal gesprek onnodig wees en dit sal vir jou heerlik wees om slegs naby God te wees. Gedurende hierdie pragtige oomblikke vra jy van Hom niks nie, maar is jy tevrede om slegs soos ’n loot aan die Wingerdstok te hang.

Gedurende hierdie heilige oomblikke van stilte, kan die Hoorder van gebed sy heilige afdrukke op jou gees maak. Jy mag onverwags ’n gedagte ervaar wat so helder en eg is, dat jy nie kan twyfel dat dit God se boodskap aan jou is nie.

Daar is ryke seën wat wag vir hulle wat geleer het om met ’n sensitiewe oor na God te luister!

GEBED

Heilige God, leer my om te luister sodat ek saam met Samuel kan sê: Praat, Here, u dienaar luister! Dankie dat Jesus Christus dit vir my moontlik gemaak het.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх