Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 24

Оглавление

18 Januarie

Die krag van gebed

LEES 1 Tessalonisense 5:12–22

Bid gedurig. – 1 Tessalonisense 5:17

Gebed is ’n lewenswyse, nie ’n noodknoppie nie. Baie mense dink gebed is net vir dié wat nie die moed het om die uitdagings van die lewe te aanvaar nie. Te veel mense dink gebed is ’n ontvlugting; ’n formule waardeur God vir jou dinge doen wat jy eintlik vir jouself kan en moet doen.

Ware gebed is egter meer as ’n noodkreet wanneer ons met ons rug teen die muur staan en alle ander pogings misluk het. Gebed het onbeperkte voordele vir hulle wat dit deel van hul lewe maak. Dit kan ’n positiewe krag in ons lewe word wat vrede en ewewig bring.

Om stil te word voor God help om die lewe in perspektief te sien. God skenk leiding aan dié wat biddend daarop wag en gewillig is om hul deel te doen. Daarom lees ons in Jakobus 1:5: “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.”

God wil ook met ons praat deur gebed. Ons moet Hom net toelaat om dit te doen. Deur meditasie voor God sal Hy ons deur sy Gees lei. Gebed gee ons die versekering van God se almag en teenwoordigheid te alle tye in ons lewe en daarby ook ’n nuwe ervaring van ware lewe.

GEBED

Hoorder van gebed, dankie dat u heilige lig deur gebed op my lewenspad val en dat dit my in staat stel om vrugbaar te lewe.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх