Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 25

Оглавление

19 Januarie

’n Immanuel-geloof

LEES Matteus 1:18–25

Sy sal ’n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sonde sal verlos. – Matteus 1:21

God het in sy Seun met ’n heerlike doel by ons kom bly. Hy het die gestalte van ’n dienskneg aangeneem sodat doodgewone mense Hom makliker kan verstaan en in ’n nuwe verhouding tot Hom kan leef.

Daar is ’n ingebore honger in mense om verenig te lewe met hul Skepper. Dit dring hulle om na God te soek. In Christus het God Homself op ’n besondere wyse aan elke mens kom aanbied. Die verstommende van hierdie Goddelike gawe was die eenvoud daarvan: ’n kindjie in ’n krip; ’n timmermanseun; ’n sterwende aan ’n kruis. Juis hierdie eenvoud het dit vir baie moeilik gemaak om sy grootheid en uniekheid te begryp en om Hom in geloof aan te neem.

God gaan voort om onder mense te lewe. Aan dié wat Hom liefhet en dien, wat in Hom bly soos die loot in die wingerdstok, gee Hy die versekering van sy teenwoordigheid deur sy Gees. As jy met sy Gees vervul is, sal jy altyd bewus wees van jou geborgenheid in Hom. Jy sal nooit alleen wees nie. Jy sal nooit bang wees vir die uitdagings van die lewe nie, want jy besit ’n Immanuel-geloof!

GEBED

Ewige God, dankie dat U in Christus my Vader is, dat ek u beloftes in my hart kan vashou. Help my om altyd by U te wees.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх