Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 32

Оглавление

26 Januarie

’n Nuwe lewe in Christus

LEES Psalm 32

Toe het ek my sonde bely, my oortreding nie weggesteek nie. Ek het gesê: “Voor die Here bely ek my opstandigheid;” en U het my skuld vergewe. – Psalm 32:5

Ons leef in ’n gebroke en sondeverskeurde wêreld. Daar is soveel bedreigings, soveel versoekings. Telkens word ons tot neerslagtigheid gedwing en sit ons vasgevang in die web van die sonde. Daar is egter ’n pad uit hierdie ellende: Jesus Christus.

As jy by Christus uitgekom en jou sonde bely het, vergeet die mislukkings en teleurstellings van die verlede en reik uit na die nuwe lewe in Christus Jesus. Vergeet jou skande en aanvaar jou kindskap van die Koning. Vergeet die neerlae en volg Christus op die pad van oorwinning. Hou jou oë gevestig op Hom, jou Leidsman en die Voleinder van jou geloof.

God is genadig en sy genade is in alle omstandighede vir jou genoeg. As jy gelowig die stryd teen die sonde stry in sy kragtige Naam, sal jy die oorwinning smaak. Dan stap jy die toekoms met al sy bedreiginge met waagmoed tegemoet, met ’n lied van bevryding in jou hart en op jou lippe.

GEBED

Hoe wonderlik is die bevryding wat U skenk, my Here en my Verlosser! Dankie dat ek my sonde en nood by U kan uitsnik as ’n voorspel tot die sing van oorwinningsliedere.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх