Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 33

Оглавление

27 Januarie

Christus is met ons

LEES Jesaja 40:12–31

Die Here is die ewige God … Hy gee die vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie … dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. – Jesaja 40:28–31

Eensaamheid en ’n gevoel van Godverlatenheid is een van die magtigste wapens van Satan. Daardeur dryf hy ons tot moedeloosheid en terneergedruktheid. Ons kan hierdie aanval van Satan weerstaan deur gelowig te wag op God wat ons in Jesus Christus in ons nood tegemoetkom en deur sy ewige Woord aan ons die versterking gee dat God omgee.

Eensaamheid het baie gesigte. Daar is eensaamheid binne die huwelik; die eensaamheid van afsondering; van die ouderdom; van verandering; en dan ook daardie laaste groot eensaamheid – die eensaamheid van die dood.

Die oplossing vir alle eensaamheid vind ons by Christus, die groot Eensame. Hy wat eenmaal Self sy Godverlatenheid moes uitsnik, sodat Hy vir jou en my kan sê: Ek is met jou al die dae. Ek sal jou nie begewe en jou nie verlaat nie. Met Hom in jou lewe word jou eensaamheid nie alleen getemper nie, maar word jou hart verbly!

GEBED

Dankie, hemelse Vader, dat U my nooit verlaat nie; dat U altyd dieselfde is. Dankie dat U alles weet, dat U omgee en magtig is om te doen ver bo wat ons kan bid of dink.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх