Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 34

Оглавление

28 Januarie

In stilwees en vertroue

LEES Jesaja 30:8–18

As julle julle bekeer en tot rus kom, sal julle gered word. Julle krag lê in stil wees en vertroue hê. – Jesaja 30:15

Hoe hanteer ’n mens spanning wat in jou opbou?

• Begin by die verlede. Moenie die verlede soos ’n ondraaglike las met jou saamsleep nie. Christus het immers beloof om alles “nuut” te maak. Hy werp jou verlede in die dieptes van die see.

• Moenie opkrop nie. Praat jou probleme op ’n volwasse wyse uit met jou lewensmaat, ’n getroue vriend of ’n pastorale raadgewer.

• Soek ’n toevlugsoord van stilte en kalmte vir jou gees – ’n plek waar jy alleen met jou Skepper kan verkeer om weer perspektief op die lewe te kry. Jy sal voel hoedat die spanning uit jou gees wegdreineer.

• Hou vas aan God se heerlike beloftes. Wanneer ons nie verder kan nie, weet God wat die beste is.

• Moenie verval in neerslagtigheid nie. Doen iets positiefs. Gaan uit in die wêreld en sien die nood van ander raak.

• Leef binne jou beperkings. Wees eerlik met jouself. Praat met God in gebed. Deel alles met Hom en vind só vrede en gemoedsrus.

GEBED

Ek dank U, Heer, vir die wete dat ek te midde van die druk wat soms orkaansterkte bereik, ’n plek van stille kalmte by U vind.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх