Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 41

Оглавление

2 Februarie

Moenie God se liefde onderskat nie

LEES Psalm 106:1–12

Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie! – Psalm 106:1

Ons aanvaar dikwels die onbeperkte goedheid en liefde van God as vanselfsprekend. Dit het ’n gees van familiariteit met Jesus Christus laat ontwikkel, wat gevaarlik grens aan ’n gebrek aan eerbied. Gevolglik aanvaar ons die seëninge van God as ’n reg en nie as ’n voorreg nie en ons skenk weinig aandag aan die betuiging van dankbaarheid daarvoor.

Ek en jy mag nooit die belangrikheid van God se vergewende liefde onderskat nie. Dit het geëis dat Christus sy lewe moes offer sodat ons gered kan word. Nêrens anders sal jy só ’n groot liefde vind nie. Dit word gedurig oor jou uitgestort, afgesien van wie jy is en wat jy doen.

Die onbeskryflike grootheid van God se liefde is van só ’n enorme omvang dat ons dit nooit waardig kan wees of kan verdien nie. Hy hou nooit op om dit vir jou aan te bied nie – selfs al sou jy met tye om die een of ander rede van Hom wegdraai. Leef dus só dat jy hierdie groot liefde waardig sal wees.

GEBED

Ek buig voor U in ootmoed, o Heer. ’n Liefde so Goddelik wonderbaar eis alles: liggaam, siel én gees.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх