Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 40

Оглавление

1 Februarie

Blye versekering

LEES Romeine 8:13–17

Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. – Romeine 8:16

Dit is nie omdat ons sulke goeie mense is dat God ons gered en tot sy diens geroep het nie. Inteendeel, Hy het ons gered ten spyte van ons bedorwenheid en onbekwaamheid. Hy het in ons net sonde gevind; maar dit is die manier waarop sy almag werk. Hy werk met dowwe lamppitte en geknakte riete (sien Jes 42:3).

As ons voor God ons swakheid bely, gee ons die eerste tree na krag. As ons in ons swakheid op sy almag staatmaak, sal Hy ons leë lewe met sy wonderkrag vul. “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is” (2 Kor 12:9).

Laat in geloof die Heilige Gees tot die binneste heiligdomme van jou lewe toe en Christus sal ’n besielende werklikheid in jou bestaan word. Behou onafgebroke gemeenskap met Hom. Dan groei die blye versekering dat jy onvervreembaar sy kind is, erfgenaam van sy krag en liefde. Wanneer die Gees hierdie getuienis in jou lewe laat deurbreek, word God ’n onmisbare werklikheid en lewe jy uit Hom, deur Hom en tot Hom!

GEBED

Meester, dankie dat ek deur u Heilige Gees kan jubel: “Blye verseekring, Jesus is myn, o, watter vreugde, heerlik en rein!” Ek loof en dank U daarvoor.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх