Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 17

Оглавление

11 Januarie

Wanneer jy oud word

LEES Prediker 12:1–8

Dink aan jou Skepper in jou jong dae voor … die jare aanbreek waarvan jy sal sê: “Ek het daar niks aan nie.” – Prediker 12:1

Dit is ’n pynigende gedagte om te dink dat jou jeug vir ewig verby is. Die ouderdom bring gewoonlik ook matelose eensaamheid met hom saam: Medereisgenote val weg langs die pad. Die omgewing waarin jy jou bevind, is dikwels nie meer dié waarin jy grootgeword of jou lewenstaak verrig het nie. Jou kragte kwyn al hoe vinniger. En die moeilikste om te aanvaar is dit: “Toe jy jonger was, het jy self jou klere vasgemaak en gegaan waar jy wil; maar wanneer jy oud is, sal jy jou hande uitsteek, en iemand anders sal jou vasmaak en jou bring waar jy nie wil wees nie” (Joh 21:18).

En tog: vir die Christen-bejaarde is dit ’n troos om te weet dat God ook ’n God van die ouderdom is, dat daar by Hom oorvloedige vergoeding is vir die skade wat die jare aan ons lewe doen. Waar Hy liggaamskragte wegneem, skenk Hy meer geestelike krag. Krag van buite word vervang deur krag van binne. Dan verstaan ons die woord van die Here wat sê: “Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige” (Sag 4:6).

GEBED

Heilige Vader, dankie dat ek nie slegs verloor met die wentelende jare nie, maar dat ek ook oneindig baie wen omdat ek u kind is en gelowig op U kan vertrou, ook in die ouderdom.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх