Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 9

Оглавление

3 Januarie

Christus, ons voorbeeld

LEES Lukas 6:12–16

In daardie tyd het Jesus uitgegaan na die berg toe om te bid en die hele nag deurgebring in gebed tot God. – Lukas 6:12

Baie Christene vergeet hoe belangrik gebed is. Dis is vir hulle ’n lastigheid in plaas van die dinamiese dryfkrag van hul lewe. Christus leer ons egter hoe belangrik gebed is. Hy het dikwels tot sy Vader gebid en ook voor elke krisis of beslissing. Dan het Hy uit hierdie versterkende afsondering gekom met innerlike kalmte en selfversekering. Die volmaakte wil van God vir sy lewe was dan vir Hom duidelik.

As dit vir Christus nodig was om so ’n noue band met sy Vader te handhaaf, het ons dit oneindig meer nodig. Gebed is die krag van ons geestelike lewe. Jou geloof kan nie ondermyn word as jy gedurig jou gebedslewe versterk nie. Jy kan nie struikel as jy op jou knieë is nie!

Wysheid om die lewe te hanteer volgens die wil van God word geskenk aan dié wat dit in gebed van hul Vader afsmeek. Sonder gebed is dit onmoontlik om sy krag en leiding te ondervind. Gebed is dus nie ’n eindpunt nie, maar deel van ’n proses wat van dag tot dag voortgesit moet word.

GEBED

Here Jesus, help my om aan my gebedslewe dieselfde voorkeur te gee as wat U daaraan gegee het, sodat u wil altyd in my lewe tot openbaring sal kom.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх