Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 7

Оглавление

1 Januarie

Sê ja! vir die lewe

LEES Johannes 10:1–17

Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed. – Johannes 10:10

Die nuwe jaar strek voor jou uit – ’n tyd van onbeperkte geleenthede om goed te doen en voluit te lewe.

Al is jou verlede dalk vol frustrasie en bitterheid; al voel jy dalk dat jy geen aansporing het om iets aan te pak nie omdat dit tog nie die moeite werd sal wees nie; al het jy dalk min rede om die hede of die toekoms met groot vertroue te bejeën, onthou: Die toekoms behoort aan jou. Die keuse of jy dit opbouend of afbrekend, positief of negatief gaan beleef, is altyd joune.

God het aan jou die lewe geskenk met ’n doel. Jy kan alleen volheid en bevrediging van “lewe” ervaar wanneer jy volgens hierdie doel lewe. En die vervulling van jou lewensdoel hang af van jou verhouding met Jesus Christus. Wanneer jou lewe ’n geestelike fondament het, het dit ook ’n geestelike doel. As jy hierdie waarheid aanvaar en in jou lewe tot openbaring laat kom, waarborg dit vir jou vreugde en tevredenheid. Dan sê jy dawerend JA! vir die lewe in al sy volheid en rykdom.

Volheid van lewe behoort aan God. Hy gee dit oorvloedig aan dié wat gewillig is om dit te ontvang en reg te gebruik. Neem dit vir jou. Dit is jou voorreg en jou verantwoordelikheid.

GEBED

Bron van my lewe, ek aanvaar met dankbaarheid u gawe van ware “lewe” en leef van dag tot dag vanuit u volheid en genade.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх