Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 18

Оглавление

12 Januarie

Christus laat my sy vrede na

LEES Johannes 14:15–31

Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. – Johannes 14:27

Christus het sy vrede aan ons gegee, want Hy het geweet die soektog na vrede sou deel wees van die mens se lewe. En ons soek sy vrede omdat ons weet dat die wêreld se vrede maar ’n floue weerkaatsing is van die vrede wat God toesê.

Om Christus se vrede te kan opeis, moet ons eers kinders van God word deur Hom in die geloof aan te neem (Joh 1:12). Ons moet sy vergifnis aanvaar en gereinig word van alle ongeregtigheid. Ons moet sy heerskappy en teenwoordigheid in ons lewe begeer en toelaat. Ons leuse moet wees: Die Here is by ons. Dan moet ons sy wil vir ons lewe soek, aanvaar en gehoorsaam. Na die voorbeeld van Christus moet ons streef om God te behaag en ons eie wil by sy wil aan te pas.

Christus gee aan ons die wonderlikste vrede: die vrede van God! Hierdie vrede is enig en anders, volkome en konstant, universeel en eg. Om deel te kan hê daaraan moet ons ’n vaste geloof hê in Jesus Christus, die bron van vrede; die verhouding tussen ons en God moet gesond wees, en ons moet in vrede met onsself en ons medemens leef.

GEBED

Ek dank U, liefdevolle Vader, dat ek u vrede kan opeis omdat Jesus Christus die pad na U vir my oopgemaak het.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх