Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 19

Оглавление

13 Januarie

Elke dag is ’n gawe van God

LEES Psalm 118

Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees. – Psalm 118:24

Die dag van vandag is ’n onbeskryflike gawe van God aan jou. Dit beteken nie dat alles voorspoedig sal verloop of dat jy nie versoek sal word nie, maar as jy met dankbaarheid die gawe aanvaar, sal jy bewus word van sy genade in jou lewe.

Jy kan jou jare tel volgens die syfer of volgens die inhoud daarvan. ’n Lang lewe wat leeg is aan geloof, liefde, arbeid en genade, is baie kort as God dit meet. En ’n kort lewe, gevul met vreugde, geloof, arbeid en liefde, kan lank wees as God sy meetsnoer daarlangs lê. Dit is hóé jy elke oomblik van elke dag benut wat bepaal wat die gehalte van jou lewe is.

In sy onmeetlike genade laat God dit aan ons oor om te besluit hoe vandag sal wees. Moontlik het jy reeds met vrees gedink aan die teëspoed wat jou kan inhaal. Miskien voel jy moedeloos en terneergedruk nog voor die dag begin het. Sulke gedagtes is teenproduktief en maak jou onnodig ongelukkig.

Om ander gelukkig te maak sal jou eie geluk verseker. Hul geluk sal jou geluk wees en ’n warm gloed van jubelende blydskap sal oorspoel na elke nuwe môre van jou lewe.

GEBED

Skepper-God, ek aanbid U as die gewer van hierdie dag. Dankie vir die voorreg om dit tot u eer te gebruik en dit met ander te deel.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх