Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 13

Оглавление

7 Januarie

Groei om te lewe

LEES Efesiërs 4:1–16

Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. – Efesiërs 4:15

Elke Christen moet begeer om vooruit te gaan in sy geestelike lewe, want sonder groei is daar stagnasie en dood. Daarom is die metodes wat ons gebruik om ons geestelike groei te stimuleer van die allergrootste belang.

Mense wat na geestelike groei hunker, neem dikwels hul toevlug tot ongesonde mistisisme. Dit is gevaarlik. Hierdie mense mislei hulself deur te dink dat hulle vooruitgaan deur eie vernuf. Geeneen van die vorms van mistieke spiritualiteit dra egter die goedkeuring van Christus weg nie en kan nooit met sy Naam of leerstellings verbind word nie.

Dit is ’n uitdaging om te groei tot gelykvormigheid aan ons Meester deur die krag van sy inwonende Gees. Om deur die Gees van God besit te word, vereis geen verborge of misterieuse rites nie. Christus gee aan jou sy Gees en dit is jou plig om Hom in jou lewe en dade tot openbaring te laat kom.

Wanneer Hy in jou lewe teenwoordig is, straal jy dit uit deur jou praktiese en liefdevolle diens. Hoe meer jy sy Gees toelaat om deur jou te werk, hoe meer sal jy bewus wees van sy teenwoordigheid en al hoe meer groei na Christus toe.

GEBED

Here, U het vryelik u Gees aan my geskenk. Gee dat ek sal groei om slegs ú heerlikheid in die wêreld te weerkaats.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх