Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 11

Оглавление

5 Januarie

God sal jou nie laat los nie

LEES Deuteronomium 33:26–29

Die ewige God is ’n skuilplek, sy arms is altyd onder jou. – Deuteronomium 33:27

Eensaamheid is iets heel anders as om alleen te wees. ’n Mens begeer soms om alleen te wees, maar eensaamheid is ’n pynlike ervaring. Elkeen van ons beleef tye wanneer dit voel niemand verstaan of gee om wat met ons gebeur nie. Wanneer hierdie gevoel jou lewe oorspoel, voel dit selfs of God ver weg en onbelangstellend is en jy begin jouself bejammer.

As jou eensaamheid jou tot wanhoop dryf en jou geestelike lewe daardeur bedreig word, plaas jou verwagting in die liefdevolle en almagtige God en wees bewus van sy teenwoordigheid. Só sal jy gaandeweg verseker word dat Hy met jou is oral waar jy gaan en in alles wat jy doen.

Al lyk dit asof jy God verloor het – Hy sal jou nooit laat los nie. Sy liefde vir jou is onsterflik en ewig en Hy bemin jou net soos jy is. Hy glo in jou selfs wanneer jy jou vertroue in jouself verloor. Onder jou is sy ewige arms altyd. Toe Josua bevrees geword het vir die onbekende pad wat hy moes aandurf, het God hom die belofte gegee: “Ek sal jou nie in die steek laat nie, jou nie verlaat nie” (Jos 1:5). Neem dié belofte ook vir jou.

GEBED

Heilige God, ek loof U vir die blye wete dat u teenwoordigheid in my lewe nie afhang van my gevoelens nie, maar dat u onsterflike liefde my van dag tot dag dra met ewige arms.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх