Читать книгу Op vlerke van geloof - Solly Ozrovech - Страница 15

Оглавление

9 Januarie

God se vertroosting

LEES Jesaja 41:8–12

Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou. – Jesaja 41:10

Die dood van ’n dierbare kom altyd as ’n geweldige skok. Jou verlies oorweldig jou en jy besef die toekoms hou moeilike beslissings én veranderinge in.

Al is jou verlies op hierdie oomblik pynlik en byna ondraaglik, hou altyd vas aan God se belofte van bystand en troos: “Soos ’n moeder haar kind laat veilig voel, so laat Ek julle veilig voel” (Jes 66:13).

Wanneer jy worstel met pyn ná die dood van ’n geliefde, kan jy ryke vertroosting put uit die Skrif en die ervarings van ander wat dieselfde pad geloop het. ’n Wyse man het aan ’n bedroefde vriend gesê: “Ek het nie gekom om jou te vertroos nie – alleen God kan dít doen. Ek het net vir jou kom sê hoe diep en innig ek met jou meevoel in jou verlies.” God gebruik mense wat opreg omgee om kanale van sy vertroosting te wees.

Vertrou van dag tot dag op God. Hy sal sy vertroosting skenk soos ’n lentereën in die barre woestyn. As jy op Hom vertrou het toe jou lewensboom oortrek was met lentebloeisels, kan jy Hom ook nou in die koue van jou wintersmart vertrou.

GEBED

Ek pleit om u vertroosting, Here, soos U dit alleen kan gee. Skenk genesing vir my verskeurde gemoed en laat my deur my trane die reënboog van hoop sien.

Op vlerke van geloof

Подняться наверх