Читать книгу Kies die lewe - Solly Ozrovech - Страница 45

10 Februarie

Оглавление

Hebreërs 11:1–6

Stormgeteisterde geloof

As ’n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy die wat Hom soek, beloon. – Heb 11:6

~

Ons leef nou, meer as ooit tevore, in moeilike en gevaarlike tye. Daar is ’n universele gewaarwording dat dinge op die wêreldtoneel na ’n klimaks toe beweeg. Daarom is dit noodsaaklik dat jy ’n geloof besit wat onwrikbaar sal bly staan as alles rondom jou in duie stort. Alleen ’n mens met ’n onstuitbare geloof in die doel van God met hierdie verskeurde wêreld, sal die toekoms met vertroue kan tegemoetgaan.

Die mens wat ernstig oor die lewe nadink, word meer en meer daarvan bewus dat hy in ’n unieke keerpunt lewe. Oor die wêreld heen hunker die mensdom na ’n versekering dat God wéét, dat Hy omgee en dat Hy iets kán doen. Al lyk dit nie aldag so nie, is hierdie nóg God se wêreld.

In sy soeke na geestelike sekerheid het die mens vele paaie gevolg en die leerstellings van Jesus op verskillende maniere vertolk. Baie dissipels van die Meester leef in groot verwarring. Maar Christus het nie ’n nuwe teologiese dogma kom verkondig nie. Hy het ’n nuwe lewe kom bied aan hulle wat dit wil aanneem. Hy bied ook die krag van geloof – ’n geloof wat staande sal bly, selfs onder die aanslae van die Bose.

Wanneer Christus sentraal staan in jou lewe en sy Gees jou lewe beheers, het jy ’n fondament waarop jy doelgerig kan bou. Die bouwerk wat op hierdie fondament verrys sal die magte van die duisternis weerstaan.

Here, dankie dat ek by U vrede en stilte kan ondervind. Versterk my geloof en lei my op u pad.

Kies die lewe

Подняться наверх