Читать книгу Kies die lewe - Solly Ozrovech - Страница 60

25 Februarie

Оглавление

Matteus 6:5–15

U koninkryk en u wil

[…] laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. – Matt 6:10

~

Die koninkryk van God begin reeds hier op aarde waar God se wil net so volmaak uitgevoer moet word soos in die hemel. Om deel van die koninkryk van God te wees, is om sy wil te doen. Daarom sê Christus sy koninkryk is binne-in ons. Dit eis die oorgawe van my wil, my hart en my lewe. Dit is om na die voorbeeld van Christus te sê: “ […] laat u wil ge­skied” (Matt 26:42).

Maar jy kan dit ook in wanhopige neerlaag sê, omdat jy niks anders kan of wil sê nie. Dit is fatalisme om te glo aan ’n blinde noodlot wat mense soos pion­ne manipuleer. God is te sterk. Dit sal tog nie help om iets anders te doen of te sê nie.

Of jy kan dit in ’n gees van bittere opstand sê. Dan sien jy God as jou vyand, maar ’n vyand so sterk dat jy Hom nie kan oorwin nie. Jy aanvaar dan sy wil, maar jy doen dit teësinnig en met onderdrukte woede.

Jy kan dit egter ook in liefde en vertroue sê, met die begeerte om sy wil só volmaak uit te voer, net soos in die hemel. Dan is die Christen in sy gemoed seker van die wysheid van God en dat Hy alleen sal doen wat vir hom die beste is. Hy is ook seker van die liefde van God – ’n liefde wat vir hom net die beste wil.

Dan is sy koninkryk en sy wil vir ons die hoogste goed.

Here, laat u koninkryk kom; laat u wil ook in my lewe geskied, net soos in die hemel.

Kies die lewe

Подняться наверх