Читать книгу Kies die lewe - Solly Ozrovech - Страница 49

14 Februarie

Оглавление

Johannes 15:1–8

Bou vir jou reserwes op

Julle moet in My bly en Ek in julle. ’n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie. – Joh 15:4

~

Dinamiese Christenskap beteken om van oomblik tot oomblik in ’n wingerdstok-loot verhouding met Christus te leef.

Dit beteken nie net dat jy totaal van Hom afhanklik is nie, maar ook dat jy steeds besig is om te groei, om dinamies te groei. ’n Dissipel van Christus se lewe is nie staties nie, maar ’n steeds groeiende bewuswording van God.

Dit beteken ook dat jy ’n reserwe van geloof het waaruit jy kan put in donker en moeilike dae wat voorlê. Soos die sakeman finansiële reserwes opbou, moet hulle wat erns maak met hul geestelike lewe, ook geestelike reserwes opbou. As jy soos ’n loot aan ’n wingerdstok in God bly, is jy nie as loot net op jóú reserwes aangewese nie, maar kan jy terugval op die wingerdstok.

Geen Christen is vrygespreek van tye van depressie nie. Tye wanneer God ver verwyderd skyn te wees. Om in dié tye sekerheid en vertroue te hê, moet jy ’n kragbron hê waaruit jy vryelik kan put. Daarom moet jy, soos die loot in die wingerstok, in Christus geborge bly, sodat sy krag onbelemmerd deur jou kan vloei en jy die vrugte kan dra wat Hy van jou lewe verwag.

Versterk my, o Bron van krag, om my geestelike reserwes op te bou. Leer my om in U te bly, sodat ek sterk sal wees in tye van beproewing.

Kies die lewe

Подняться наверх