Читать книгу Kies die lewe - Solly Ozrovech - Страница 61

26 Februarie

Оглавление

Matteus 6:5–15

Brood vir vandag!

Gee ons vandag ons daaglikse brood. – Matt 6:11

~

Wanneer ons hierdie gebed bid, glo ons dat God vir ons liggaamlike welsyn omgee. Hy sien nie net om na die siel van die mens nie, maar na al die fasette van sy bestaan.

Ons hoef ons oor niks te bekommer nie, want God sorg elke dag vir ons – Hy gee selfs in die woestyn manna en kwartels, genoeg vir elke dag. Dit is egter nie so maklik om maar net vir vandag op God te vertrou nie, want die gees van materialisme eis dat ek seker sal wees van môre se brood.

Wanneer ons tot God bid vir vandag se brood, gee ons aan Hom die sentrale plek in ons lewe en erken ons dat ons van Hom al die goeie gawes ontvang. Met hierdie gebed bely ons ons totale afhanklikheid.

Maar afhanklikheid beteken nie dat ons agteroor kan gaan sit nie. Gebed en werk gaan hand aan hand. God het bepaal dat ons in die sweet van ons aangesig ons brood sal eet. God gee lewe en groeikrag; ons moet die arbeid gee. Eers dan kan ons ons brood van God vra. Ons moet ook onthou dat ons vra “Gee ons vandag ons daaglikse brood […]” en dat ons van die oorvloed wat God aan ons gee, ook met ander – wat minder het – moet deel.

Hemelse Here, ek dank U vir my daaglikse brood. Stil ook my dieper honger met die Brood van die Lewe – Jesus Christus.

Kies die lewe

Подняться наверх