Читать книгу Kies die lewe - Solly Ozrovech - Страница 59

24 Februarie

Оглавление

Matteus 6:5–15

Laat u naam geheilig word

[…] laat u Naam geheilig word […] – Matt 6:9

~

Hier word ons geroep om God se Naam anders as alle ander name te behandel. “Heilig” beteken immers “anders” of “afgesonder”. Ons sê hier eintlik: “Gee ons die genade om aan U daardie unieke plek te gee wat u Persoon en u karakter vereis en verdien!”

Dit beteken dat ons God in eerbied moet nader. Die geloof dat God my Skepper en Onderhouer is, dryf my uit na Hom toe en laat my opkyk na Hom as die Heilige, die gans Anderse. Dan weet ons saam met Augustinus dat ons vir Hom geskep is, en dat ons nêrens rus vind, voordat ons dit in Hom gevind het nie.

Ons moet weet watter soort God ons aanbid. Ons moet bewus wees van sy heiligheid, regverdigheid en liefde. Dit sal ons dwing om in nederigheid te buig voor sy almag en ons te beroep op sy genade.

Ons moet van dag tot dag leef met ’n gedurige bewussyn van sy teenwoordigheid in ons lewe. Dit moet vir ons iets voelbaars en werklik wees.

Ons moet ons aan Hom onderwerp en aan Hom gehoorsaam wees. Elke dag moet dit my hoogste vreugde wees om sy wil in gehoorsaamheid te doen. Dit is eerbied teenoor God. Dit het niks met vrees te doen nie. God moet die eerbied ontvang wat sy natuur en karakter vereis. Nie net in my gebede nie, maar ook in my lewe.

Dankie, heilige Vader, dat ek wéét U is daar; dat U heilig en anders is; dat U altyd by my is en dat ek U gehoorsaam kan volg.

Kies die lewe

Подняться наверх