Читать книгу Kies die lewe - Solly Ozrovech - Страница 46

11 Februarie

Оглавление

1 Timoteus 4:6–16

Die vrymoedigheid om te getuig

Oefen jou liewer om in toewyding aan God te lewe. – 1 Tim 4:7

~

’n Mens kan Christus nie in die geheim volg soos Nikodemus nie. Óf die geheim vernietig jou Christenskap óf jou Christenskap vernietig die geheim. Sommige mense is traag om oor hul geloof te praat. Hul godsdienstige oortuigings is só intiem dat dit selfs van hul beste vriende versteek is.

Hiervoor is daar baie redes: Sommige mense is inherent teruggetrokke of skaam. Of die geselskap waarin jy jou bevind, mag dalk spottend verwys na enigiets wat met godsdiens te doen het. Die gevaar bestaan miskien dat jy vanweë jou godsdienstige oortuigings uit sekere groepe uitgesluit sal word. Entoesiasme oor jou geloof mag jou brandmerk as ongebalanseerd. Gevolglik swyg jy oor die heel belangrikste aspek van jou lewe.

As jou geloof vir jou ’n werklikheid is, sal jy dit nie verborge kan hou nie. Jou lewe sal dit wys. Dit is alleen wanneer ’n persoon se lewe nie ooreenstem met sy geloofsoortuiging nie, dat hy die feit probeer wegsteek dat hy ’n gelo­wige volgeling van Jesus Christus is.

Wanneer Christus sentraal staan in jou geloof en godsdiensbeoefening en jy bewus is van jou verbintenis met Hom – soos die loot in die wingerdstok – is dit nie meer belangrik wat ander sê of doen nie. Jy weet vir jou is Christus die lewe en jou hoogste ideaal is om Hom te gehoorsaam. Jy sal jou blydskap en opwinding nie wil wegsteek nie, maar dit liewer met ander wil deel.

Jesus Christus, U is die Bron van al my vreugde. Dankie dat U elke dag ’n lewende werklikheid in my lewe is.

Kies die lewe

Подняться наверх