Читать книгу Kies die lewe - Solly Ozrovech - Страница 47

12 Februarie

Оглавление

Romeine 7:12–20

Gevaarlike selfminagting

Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? – Rom 7:24

~

Daar is baie mense wat minderwaardig voel en nog voor hulle ’n nuwe onderneming aanpak, reeds oortuig is daarvan dat dit tot mislukking gedoem is. In hul geestelike lewe glo hulle met oortuiging dat hulle nooit die geestelike groei kan bereik wat God vir hulle bedoel het nie. Hulle benader die hele lewe vanuit die veronderstelling dat hulle reeds verloor het.

Om te volhard met so ’n swak selfbeeld beroof jou van die vernuwende krag wat die liefde van God in jou lewe genereer. As jy aanhou met selfverwyt oor sonde wat God reeds vergeef het, kan jy nie in sy genesende liefde deel nie.

As jy die vergifnis van God aanvaar en jou verheug in jou verlossing uit sonde, het jy geen reg om jouself te veroordeel nie. Jy is ’n verloste kind van jou hemelse Vader en jy moet die lewe moedig en met selfvertroue aanvaar. Jy moet verder gaan as “Ek ellendige mens!” en uitkom by “Aan God die dank! Hy doen dit (verlos ons) deur Jesus Christus ons Here.” As jou selfvertroue op die manier herstel is en Christus ’n lewende werklikheid in jou lewe word, sal jy saam met Paulus kan bely: “Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet” (Rom 8:37). Niks, nie eens ’n swak selfbeeld kan jou skei van die liefde van God nie.

Here, in u krag en deur u vergifnis, minag ek myself nie meer nie, maar verheug my in u verlossing.

Kies die lewe

Подняться наверх