Читать книгу Kies die lewe - Solly Ozrovech - Страница 50

15 Februarie

Оглавление

Matteus 16:24–28

Die prys van dissipelskap

Toe sê Jesus vir sy dissipels: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis dra en My volg.” – Matt 16:24

~

Christus het nooit gewildheid gesoek nie. Toe die skare Hom wou koning maak, het Hy stilweg verdwyn. Toe ’n talentvolle ryk jongman sy dienste kom aanbied, het Christus aan hom ’n uitdaging ge­stel wat hy nie wou aanvaar nie. Hy het bedroef van Jesus af weggedraai. Deur die eeue heen rig Christus aan sy volgelinge die uitdaging van die Waarheid, maar nooit het Hy toegewings gemaak om ’n enkele dissipel te oorreed nie.

Of die Meester jou geroep het tot ’n besondere arbeidsveld wat groot opoffering vereis, en of Hy jou geroep en geplaas het in bekende omstandighede waar jy Hom sonder enige opwinding of glans moet dien – sy vereistes bly dieselfde. Hy vra totale oorgawe en gehoorsaamheid om enigiets te aanvaar wat die toekoms mag inhou. Dit beteken dat jy Hom volkome moet vertrou.

Om jouself aan die Here oor te gee, is nie altyd maklik nie. Die daad van oorgawe is nie ’n eenmalige, emosionele daad nie, maar is ’n toewyding van oom­blik tot oomblik – ’n hele leeftyd lank. Elkeen wat hierdie uitdaging aanvaar, bely daarmee dat die Here se weg en nie sy eie nie, voorrang sal geniet. Wanneer jy met blymoedigheid jou kruis dra en Christus onvoorwaardelik volg, ontdek jy dat die kruis werklik die instrument van jou verlossing en groei is.

Ek wil ook my kruis tot u eer dra, Here, sodat ek liggaamlik en geestelik in u diens versterk kan word.

Kies die lewe

Подняться наверх