Читать книгу Kies die lewe - Solly Ozrovech - Страница 63

28 Februarie

Оглавление

Matteus 6:5–15

Verlossing van versoeking

[…] laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose. – Matt 6:13

~

Geen mens is gevrywaar van versoeking nie. Versoeking is ’n toets vir die egtheid van ons geloof en gehoorsaamheid. Die feit dat ons hierdie bede bid, is ’n belydenis dat ons nie in eie krag die versoekings in ons lewe kan weerstaan nie. In God se krag kan ons egter triomfeer. Elke versoeking wat ons deur sy genade kan weerstaan, bring geestelike groei.

Ons bid hier dat God ons van die versoekings van ons eie sondige natuur en van verleiding deur ander moet bewaar. God is nie ’n magtelose toeskouer op die toneel van ons versoekings nie. Hy het beheer oor elke situasie en Hy is magtig om te red. As God hom nie toelaat nie, is selfs die duiwel magteloos (lees Job 1:12; 2:6). Ons bid ook dat God ons só moet lei dat ons nie in Satan se strikke sal inloop nie. Ons moet God se wil vir ons lewe só goed ken dat ons verbode terreine sal vermy.

Hierdie bede vra dat ons geharnas en beskerm sal word en dat ons weerstand teen versoeking versterk sal word. God alleen kan ons red. Ons het geen ander heenkome nie, daarom bely ons ons swakheid en vra ons sy beskerming teen die gevaar. As God ons beskermer is, is daar geen versoeking of verleiding wat ons hoef te vrees nie.

Bewaarder en Meester, dankie dat ek die lewe kan tegemoetgaan met die wete dat U my beskermer teen die aanslae van die Bose is, deur die heerlike werk van my Verlosser, Jesus Christus.

Kies die lewe

Подняться наверх