Читать книгу Kies die lewe - Solly Ozrovech - Страница 58

23 Februarie

Оглавление

Matteus 6:5–15

Wat in die hemel is

Ons Vader wat in die hemel is […] – Matt 6:9

~

Die woorde “wat in die hemel is” herinner ons eerstens aan die heiligheid van God. Die Griekse woord “hagios” en ons woord “heilig” beteken “anders” of “afgesonder”. Ons moet derhalwe God se Naam anders behandel as alle ander name. Sy Naam moet ’n plek kry wat absoluut uniek is.

In Hebreeus beteken ’n persoon se naam nie alleen die woord waarmee hy genoem word nie; dit dui ook sy natuur, karakter en persoonlikheid aan. Al is Hy ons Vader, moet ons onthou dat Hy in die hemel woon en hoog bo ons verhewe is. Ons mag Hom as Vader benader met liefde en blydskap, maar altyd met eerbied en aanbidding, verwondering en ootmoed.

Dit herinner ons tweedens aan die almag van God. As ons dink aan ons Vader “wat in die hemel is”, dink ons aan God as almagtige, regverdige en heilige God. Menslike liefde kan intens wees – en tog magteloos. Met hierdie gebed koppel ons die liefde van God met sy almag. Ons mag iemand liefhê en tog nie in staat wees om hom te help nie. God se liefde word gedra deur sy almag om te alle tye te doen wat Hy wil.

As ons dus dink aan God “wat in die Hemel” is, moet ons buig voor sy heiligheid, en juig oor sy almag wat sy liefde in staat stel om enigiets te doen.

Heilige Vader, maak my diep bewus van u liefde wat deur u almag ondersteun word. Dit gee my moed in my stryd.

Kies die lewe

Подняться наверх